Die Namibiese skaapsektor staan vandag by ’n kruispad.

Die bedryf het ’n trotse geskiedenis wat gebou is op veerkragtigheid, vernuwing en die toewyding van produsente wat oor baie dekades by veranderende marktoestande, klimaatsuitdagings en bedryfsveranderinge aangepas het, sê die Lewendehawe-produsentevereniging (LPO).  “Na ’n mandaat van skaapprodusente tydens die 2024-kongres van LPO, is omvattende konsultasies, opnames en ondersoeke onderneem om geleenthede te verken wat produsentedeelname binne die skaapwaardeketting kan vergroot,” sê die LPO in die jongste weeklikse nuusbrief van die Namibië Landbou-unie (NLU).

Hierdie besprekings het ’n unieke geleentheid vir Namibiese skaapprodusente geïdentifiseer om groter eienaarskap en betrokkenheid by verwerking, bemarking, uitvoer en waardetoevoeging te oorweeg. “Tans word die meerderheid Namibiese skape deur ’n enkele kanaal bemark, wat die bedryf kwesbaar vir mark-, beleids-, ekonomiese en klimaatsveranderinge maak. “Die diversifisering van markgeleenthede en die versterking van produsente se invloed regdeur die waardeketting is toenemend belangrik vir die langtermyn-volhoubaarheid en winsgewendheid van skaapboerdery in Namibië.”

Die komende vergadering op 22 Julie 2026 in die Mariental-distrik sal ’n belangrike platform bied waar skaapprodusente die toekomstige rigting van die bedryf kan bespreek. Besprekings sal volgens die LPO fokus op produsente se doelwitte, moontlike besigheidsmodelle, eienaarskapstrukture, uitvoergeleenthede, asook die rol wat produsente kan speel om ’n sterker posisie binne die waardeketting te verseker.

Alle skaapprodusente word aangemoedig om die vergadering by te woon en hul bydrae te lewer. “Die besluite en rigting wat uit hierdie vergadering voortspruit, het die potensiaal om die toekomstige mededingendheid en winsgewendheid van die Namibiese skaapsektor vir geslagte te beïnvloed,” sê die LPO. Vir verdere inligting, kontak Leigh-Ann Nehoya van die NLU by 082 409 9320.