GEMSBOK-GROBLERSHOOP: Die KFA Agri Business Hub het met die eerste fase van sy veekraalprojek amptelik begin, ’n belangrike stap in KFA se visie om landbou as ekonomiese dryfkrag van !Kheis te vestig.

Lede van KFA Agri Business Hub het onder leiding van KFA-President, John van Wyk en KFA-Sameroeper, Dirk Louw vandag die projek afgeskop. Die projek bou voort op ’n inisiatief wat reeds vroëer vanjaar op 7 Maart 2026 momentum gekry het toe 40 KFA-lede die hand aan die ploeg geslaan het deur elk vyf skaap- of bokooie tot die Besigheidsentiteit by te dra. Dié kollektiewe bydrae het die veegetalle tot 200 ooie verhoog en die grondslag gelê vir die verdere ontwikkeling van die KFA Agri Business Hub.

KFA doen ’n beroep op weldoeners, besighede en belanghebbendes om die projek met finansiering, materiaal, toerusting of kundigheid te ondersteun. KFA glo dat kollektiewe boerdery bestaande hulpbronne kan omskep in volhoubare ekonomiese geleenthede, voedselproduksie en werkskepping. “Goeie bestuur van bestaande hulpbronne is aan die orde van die dag. Ons moet minder praat en meer doen. Saam, doelgerig en met ’n langtermynvisie. Enige bydrae, groot of klein bring ons nader aan ons doel.,” het van Wyk, gesê.

Benodigdhede sluit in ±80 dik hoekpale, ±270 ongeteerde houtpale, 12 groot- en standaardkralehekke, 23 klein standaardhekkies, ±130 m³ beton (sement en ander boumateriaal) vir fondamente. Ander benodighede sluit in 2 × 5 000 L watertenks, ±800 m waterpype en toebehore, ±16 waterdrinkbakke, ±20 voerbakke/voerkrippe, 4 lammer-/skuilingstrukture, 2 hanterings- en laaistelsels, 2 weegskale, 2 mobiele laairampe, ±200 m stormwaterdreinering en genoeg skadu-strukture vir die krale. Daar is ook gevra vir jakkals-proefdraad en ander draadbenodigdhede, drink water en LED Outdoor Solar Lights.

Maak gerus kontak met die Kantoor van die Sekretaris-Generaal vir meer inligting of om tot die inisiatief by te dra: 060 618 0314 kheisfarmersassociation@gmail.com

Jy kan elke Vrydag jou gratis Gemsbok op WhatsApp kry! Volg die skakel - https://whatsapp.com/channel/0029VbCfMcCLtOj9eXoohS29