GEMSBOK-GROBLERSHOOP: !Kheis Farmers Association (KFA) het onlangs ’n belangrike mylpaal bereik toe lede van die organisasie suksesvol hul eerste lewendehawe afgelaai het ter ondersteuning van die KFA Agri Besigheidseenheid.

In totaal het 40 lede ’n bydrae van 200 diere gelewer, bestaande uit 130 skape en 70 bokke. Hierdie bydraes vorm deel van KFA se Volhoubare Groei- en Ontwikkelingsplan en verteenwoordig ’n gedeelte van die lede se produksie-aandeel binne die Besigheidseenheid van die organisasie. Die inisiatief is daarop gemik om ’n volhoubare landboubesigheid te vestig wat uiteindelik inkomste sal genereer vir lede en terselfdertyd landbou-ontwikkeling in die !Kheis munisipale gebied bevorder.

Volgens die president van KFA, John Van Wyk, is die inisiatief ’n belangrike stap vir opkomende boere in die streek. “Die bydrae van elke lid dra direk by tot die groei van ons Besigheidseenheid en versterk ons verbintenis tot volhoubare landbou. Ons het met trots ons teiken van 200 diere bereik, wat ’n groot stap vorentoe is vir die ontwikkeling van ons Besigheidseenheid. Ons bedank al ons lede vir hul deelname en sien uit na verdere samewerking wat die ekonomiese ontwikkeling van ons gemeenskap ondersteun,” het hy gesê.

Van Wyk het verder beklemtoon dat die projek een van die eerste inisiatiewe van sy soort is wat deur kleinskaalse boere binne die !Kheis Munisipaliteit geïnisieer word, met die doel om kleinboere uiteindelik as volhoubare kommersiële boere te vestig en ’n betekenisvolle bydrae tot die plaaslike ekonomie en landbouwaardeketting te lewer.

Intussen het KFA, ook ’n konstruktiewe bilaterale vergadering met lede van die Danielskuil Hunting Club, gehou om moontlike samewerking binne die jag-, wild- en wildbestuursektor te verken. Die gesprekke het gefokus op geleenthede rondom etiese jag, wildbestuur, grondbenutting en jagtoerisme as aanvullende landbou-aktiwiteite wat nuwe inkomste geleenthede vir boere kan ontsluit. Die sekretaris-generaal van KFA, Gershuan Baster, het die be- langrikheid van strategiese vennootskappe beklemtoon. “As KFA is ons daartoe verbind om innoverende geleenthede te ondersoek wat die landbousektor kan versterk en volhoubare inkomste vir ons boere kan skep. Die jag- en wildsektor hou groot potensiaal in, en hierdie gesprekke is ’n belangrike eerste stap na ’n wedersyds voordelige vennootskap.” het hy gesê. Baster het ook namens die organisasie sy dank uitgespreek aan mnr. Leon Cloete van Cloete & Seuns Boerdery vir hul hulp met die klassifikasie van die lewendehawe, asook aan mnr. Dirk Louw van die Silvermoon Familie Plaas vir hul ondersteuning en leiding tydens die proses.

Met die suksesvolle bereiking van die 200-dier teiken en die verkenning van nuwe samewerkingsgeleenthede, sien KFA hierdie ontwikkelinge as die begin van ’n nuwe hoofstuk vir landbou in die !Kheis-gebied, waar samewerking, kollektiewe belegging en volhoubare ontwikkeling die grondslag vorm vir toekomstige groei.

Jy kan elke Vrydag die skakel na jou gratis Gemsbok op WhatsApp kry! Volg net die skakel!

https://whatsapp.com/channel/0029VbCfMcCLtOj9eXoohS29