Ná verwagting sal die geskiedkundige Kapps a Kubata Loft Hotel op Lüderitz weer sy plek as ’n simbool van welvaart en rykdom op die kusdorp inneem, 120 jaar na die totstandkoming van die oorspronklike hotel.
Met die projekbeplanning goed op koers, word die opening in die eerste kwartaal van volgende jaar verwag. Nokubiko Investments het ’n gediversifiseerde Namibiese portefeulje met belange in onder meer gasvryheid-, toerisme- en nywerheidsektor.
Nokubiko se belegger en sakeman Jorge de Morais sê die onderneming belê in verskeie Namibiese dorpe, maar dat hierdie projek van multimiljoene dollars op Lüderitz spesiaal is. “Kapps is die oorspronklike naam van die hotel wat in 1907 gevestig is, so dit het ’n lang geskiedenis. Toe ons in Lüderitz aankom en die hotel sien, was ons werklik beïndruk deur die geskiedenis en argitektuur daarvan."
De Morais het toe besluit om hierdie simbool van die dorp te bekom en om dit te verhef “om dit nader aan die toekoms van die Namibië wat ons almal bou, te bring”.
Volgens hom was Lüderitz aanvanklik ’n baken van rykdom, alhoewel die kusdorp later deur die woestyn van gestagneerde ontwikkeling moes wandel.
De Morais wil bewys dat Lüderitz tot sy glorieryke dae sal terugkeer. “Lüderitz is dié plek om te wees. Een van die bydrae om Lüderitz weer ’n baken van Namibië te maak, is om hierdie historiese hotel terug na sy volle glorie te bring.
“Ons wil werklik hê Kapps Kubata moet ’n aantrekkingskrag word om mense van oraloor – nie net van Namibië nie, maar ook van oorsee – na die dorp te lok, met die boodskap dat Lüderitz reg is om hulle te verwelkom,” sê hy.
CK Heydt Civils uit Keetmanshoop is reeds as die kontrakteur vir die konstruksiewerk aangestel.
BRUG TUSSEN HEDE EN VERLEDE
Volgens De Morais sal die veranderinge aan die hotel doelbewus gedoen word om ’n brug tussen die verlede en die toekoms te weerspieël.
“Daar is sleutelelemente wat ons behou, soos die fasade, die boë en die ikoniese kegeldak. Hierdie hotel beskik oor ’n kegeldak wat bekend staan as ’n ikoon van die dorp,” verduidelik De Morais.
“Ons behou dit alles, maar bring ook nuwe moderne elemente soos nuwe vensters en verskillende vorme om hierdie hotel na hoër vlakke te verhef.”
Volgens hom sal die hotel omskep word om meer as die beplande 33 slaapkamers te bied, insluitend kantore, konferensiekamers, restaurante, kroeë en ook swembad, ’n gimnasium en sauna.
“Ons wil ’n plek skep waarheen mens kan kom, slaap, eet, werk en dit geniet,” het De Morais gaste uitgenooi.
“Verskillende vaardighede van baie mense word vereis en ons verwag om sowat 50 mense te benodig om te verseker dat die hotelbedrywighede vlot verloop en besoekers ’n wonderlike ervaring sal geniet,” het hy gesê.
De Morais sien die rol van die opgeknapte hotel as deel van die herlewing van Lüderitz om weer eens sy historiese plek vol te kan staan.
Sy visie vir Lüderitz behels die hawe se ligging aan die Oranje-kom waar olie in die Atlantiese Oseaan ontdek is. Weens die dorp se ligging as die naaste poort sal dit die maklikste plek wees om voor te berei vir die groot komende olie- en gasverwante bedrywighede, sê hy.
“Verbeel jou, met die ontwikkeling van die hawe, watter ander dinge saam sal kom: Nywerhede, visserye, mynbou, al die winkels, al die dinge wat ’n stad ’n stad maak, sal weer terugkom en sal ontwikkeling bevorder. Dit is wat ons soek,” sê hy.