Die aankoms van die passasierskip Mein Schiff 6 die naweek in die Walvisbaaise hawe het beide die groeiende potensiaal van dié skepe vir Namibië se toerismebedryf asook die behoefte om visum-by-aankomsprosedures meer vaartbelyn te maak, beklemtoon.
Die skip wat onder die vlag van Malta vaar, het by die hawedorp met ongeveer 2 500 passasiers vasgemeer. Hiervan het sowat 50% aan wal gegaan om plaaslike besienswaardighede deur georganiseerde uitstappies en onafhanklike reisreëlings te verken.
Mein Schiff 6 se aankoms het saamgeval met ’n besoek deur senior staatsamptenare as deel van die Namibië Toerismeraad (NTB) se evalueringsprogram vir die ervarings van besoekers aan Namibië. Die program het Saterdag afgeskop met ’n uitstappie na Sandwich Harbour en is aan boord van die Mein Schiff 6 afgesluit. TUI Cruises se senior bestuurder vir bedrywighede aan die kus, Timo Kaden, sê passasiers is opgewonde om Namibië te besoek. Tussen 60% en 80% neem volgens hom tipies deel aan uitstappies wat deur plaaslike toeroperateurs aangebied word.
Kaden sê egter uitdagings is voor die passasierskip se aankoms ondervind met Namibië se aanlyn stelsel vir visumaansoeke. Volgens hom is passasiers aangemoedig om aansoek vir die visums te doen voor hulle aan boord gaan. Tegniese probleme het sommige reisigers egter verhinder om die proses te voltooi. “Ons het steeds sowat 130 gaste sonder bevestigde visums aan boord gehad toe ons hier aangeland het,” het hy gesê. Kaden sê toekomstige verbeterings aan die visumproses sal bydra tot ’n gladder ervaring vir besoekers en toeriste aanmoedig om na Namibië terug te keer.
Proses - Die adjunkminister van die omgewing, bosbou en toerisme, Anselm Marungu, sê op sy beurt die aankoms van duisende besoekers aan boord van passasierskepe bied ’n beduidende geleenthede vir die land se ekonomie.
“Hierdie besoekers gaan geld in die land agterlaat en tot ekonomiese groei bydra,” sê Marungu. Daniel Nghidinua, die uitvoerende direkteur van immigrasie, het erken dat vertragings in visumverwerking die hoeveelheid tyd kan verminder wat besoekers aan wal deurbring. “Wanneer die visum-by-aankoms-proses te lank neem, beïnvloed dit die hele proses. Besoekers het minder tyd om uit te gaan en geld in die plaaslike ekonomie te bestee,” sê Nghidinua.
Hy het gevra vir beter koördinering tussen belanghebbendes om vinniger verwerking van aankomende passasiers te verseker en om die voordele van passasierskepe vir die toerismebedryf te verhoog. Volgens Nghidinua het die meeste passasiers suksesvol hul visums verkry voordat hulle in Namibië aangekom het, met slegs ’n klein groepie wat hulp met hul aankoms benodig het. “Ons wil hê ons gaste moet hul visums kry voordat hulle in Namibië aankom. Ons kyk na beide die aansoek- en betalingsprosesse om die ervaring te verbeter,” het hy gesê.
Volgens hom het amptenare uitdagings met konnektiwiteit identifiseer wat met internettoegang aan boord van die vaartuig verband hou, asook vertragings wat deur die verifiëring van betaling veroorsaak word. Nghidinua sê nouer samewerking is tussen immigrasie-owerhede, telekommunikasieverskaffers, rolspelers in die toerismebedryf, asook operateurs van passasierskepe nodig om die uitdagings te takel.
Onder die verbeterings wat oorweeg word, is duideliker leiding aan passasiers, beter konnektiwiteit en alternatiewe reëlings vir die verwerking van visumaansoeke vir besoekers wat nie aanlyn en voor hul aankoms hul aansoeke kan voltooi nie. “Oor die algemeen is ons tevrede met die reaksie op die grond, maar daar is verskeie areas waar ons kan verbeter om te verseker dat toekomstige besoeke nog gladder verloop,” het hy gesê.
Een van die moontlike oplossings wat geopper is, was ’n groepsvisum vir passasierskepe. Hiervolgens sal operateurs ’n enkele visum uitreik wat passasiers dek wat beplan om aan wal te gaan. Tydens ’n vergadering met rolspelers is kommer ook geopper oor onwettige toerisme-operateurs by die Walvisbaaise hawe. Laasgenoemde kan volgens belanghebbendes risiko’s vir die veiligheid van besoekers, die gehalte van diens, billike mededinging en die land se beeld as toerismebestemming inhou.
Die NTB het herhaal dat alle toerisme-ondernemings en gidse geregistreer moet wees en aan regulasies moet voldoen.