Die Namibiese Haweowerheid (Namport) het die Independent Patriots for Change (IPC) se bewerings oor verskeie ontwikkelings in die hawe van Lüderitz, ten sterkste weerlê. 

In reaksie op ’n bewering deur die IPC dat die tender van Lüderitz Oil Supply Base Design, Build, Own, Operate, and Transfer (DBOOT) sonder enige verduideliking gekanselleer is, het Andrew Kanime, die uitvoerende hoof van Namport, gesê. 

“Die besluit om die tender te kanselleer, is deur verskeie faktore genoodsaak, waarvan nie een in die IPC se mediaverklaring aangehaal word nie.” 

Kanime het beklemtoon dat ’n belangrike oorweging in die besluit om die DBOOT-tender te kanselleer, ’n duidelike aanduiding van verwarring onder die publiek en rolspelers was, asook ’n gebrek aan belyning oor die DBOOT-olie- en gasprojek en die beplande uitbreiding van Namport se bestaande nie-olie- en gasbedrywighede by die hawe van Lüderitz, waarvoor ’n omgewingsimpakstudie destyds aan die gang was. 

Hierdie studie het spesifiek ook ’n erfenis-impakstudie op Shark Island ingesluit. 

“As gevolg van hierdie misverstand is kommer oor die omgewing wat met die nie-olie- en gasprojek verband hou, verkeerdelik aan die DBOOT-olie- en gasprojek toegeskryf. 


“Daarom het Namport dit as die gepaste geag om eers hierdie wanopvattings uit die weg te ruim en besluit om die DBOOT-tender te kanselleer, sodat die DBOOT-olie- en gasprojek nie onnodig in die gedrang gebring en moontlik vertraag word deur omgewingsverwante uitdagings van rolspelers en plaaslike gemeenskappe nie,” het hy gesê. 


‘NIKS AGTERBAKS’

Kanime het verder gesê dat die stelling in die mediaverklaring dat die agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida) ingespan is om Namport se verkrygingsproses te omseil, verkeerd is. 

Hy benadruk dat daar niks onbehoorlik of agterbaks is in die samewerking tussen twee staatsinstellings om die voorsieningsbasis van olie en gas gesamentlik te ontwikkel nie. 

“Met erkenning van Nida se mandaat as ’n staatsinstelling wat belas is met toesig oor die land se nywerheidsontwikkeling en gegewe die behoefte om die enorme potensiaal en voordele wat die land uit die ontwikkeling en bedryf van die strategiese olie- en gassektor kan verdien, ten volle te benut, is ’n goed deurdagte besluit geneem dat Namport en Nida ’n formidabele vennootskap sou vorm vir die ontwikkeling van die olie- en gasvoorsieningsbasis by die hawe van Lüderitz en die verwesenliking van die land se ekonomiese ontwikkeling en plaaslike waardetoevoegingsdoelwitte,” het Kanime gesê. 

“Dit is belangrik dat die verskillende, maar beduidend aanvullende mandate van die twee instellings slegs die voordele uit hierdie vennootskap tot die maksimum sal kan gegenereer. 

“Namport en Nida sal op hul beurt en steeds gesamentlik, ’n ontwikkelingsvennoot vir die olie- en gasvoorsieningsbasis by die hawe op ’n mededingende wyse verkry, gebaseer op die keuse van wetlik voorgeskrewe verkrygingsmetodes wat as die gepaste en mees doeltreffende geag word om die ontwikkeling te bereik.” 


TRADEPORT

Kanime het erken dat Namport sedert 2019 ’n sakeverhouding met Tradeport het, toe die maatskappy hul eerste versending mangaan uit die Noord-Kaap-provinsie van Suid-Afrika via die hawe van Lüderitz gedoen het. 

“Daar is geen feitelike grondslag vir die bewering dat Tradeport by olie- en gasbedrywe by die hawe betrokke is nie. Tradeport se besigheid by die hawe is spesifiek en uitsluitlik mangaanuitvoere uit die Noord-Kaap,” het hy benadruk. 

Volgens Kanime het die Tradeport-volumes ’n broodnodige hupstoot aan die vragdeurset by die hawe gegee in ’n tyd toe volumes op hul laagste by die hawe was en het dit die uitdagings met volume aansienlik verminder. 

“In teenstelling met die bewerings in die verklaring van IPC, verskaf Tradeport geen brandstof aan Namport of ander kliënte by beide hawens nie en is dit nie betrokke by die voortgesette olie- en gasbedrywe by beide hawens nie. 

Hy het bygevoeg: “Daarbenewens bedryf Tradeport vanuit die hawe van Lüderitz se grootmaatterminaal, wat verskil van die terrein wat vir die olie- en gasbedryf se diensgebied aangewys is.” 

“Dit is nogal jammer dat die belangrike Tradeport-mangaanbesigheid deur die hawe nou verkeerdelik met die voortgesette bewerings rondom die olie- en gasbedryf by die hawe van Lüderitz geassosieer word, waarvan dit glad nie deel is nie,” het Kanime gesê.  

– otis@nsh.com.na