’n Ontevredenheid was te bespeur in reaksies op een van ons onlangse sportberigte oor ’n jong Namibiese rugbyspeler wat einde laas jaar verby die halfpadmerk van sy uitdiening van ’n vierjaarskorsing vir die gebruik van ’n verbode steroïed beweeg het.


Selfs hooggeplaaste figure in die nasionale rugby-unie het in private gesprekke en in die openbaar laat blyk dat hulle nie van die aanbieding van die storie gehou het nie.


’n Mening is gelug dat die saak “ou nuus” of nie meer relevant is nie, of dat die storie die nasionale rugby-unie in ’n swak lig stel.


’n Kykie na die tydlyn verklap dalk hoekom diegene so voel. Die positiewe urinemonster is in November 2022 tydens die speler se nasionale debuuttoer in Europa gelewer. Die speler is die volgende maand van die uitslag ingelig, maar die wiele van die dissiplinêre proses draai tydsaam en het toe nog nie eens begin nie.


Eers ’n jaar later (Desember 2023) is die proses ten volle afgehandel, wat drie maande tevore ’n dissiplinêre verhoor met regsverteenwoordigers aan beide kante ingesluit het en waarin die speler kon motiveer waarom die standaard skorsing van vier jaar verminder moes word.


Selfs indien ’n buitestander van die saak bewus sou wees, kon die speler nie in die media geïdentifiseer word voordat die sport se wêreldbeheerliggaam die volledige regsdokument op sy amptelike webblad vir die doel oplaai nie.


In die nadraai van die koerantberig vroeg in Maart vanjaar, wat ook op sosiale media gedeel is, het mense hardop gewonder of die nasionale unie nie veronderstel was om die media en rugbypubliek oor die saak in te lig nie. Hieroor kan ’n debat seker gevoer word, maar ek voel nie sterk daaroor nie.


Om die waarheid te sê, die saak sou steeds wêreldwyd geen publisiteit (behalwe die genoemde, redelik lae profiel webblad) gekry het as die uwe nie bloot toevallig die gedagte gekry het om vir ’n slag by keeprugbyclean te gaan inloer nie.


Selfs toe wou die skakel na die regsdokument nie oopmaak nie. Ek het ’n versoek hieroor gestuur na elke senior beampte by die wêreldbeheerliggaam wie se besonderhede ek in die hande kon kry. Niemand het geantwoord nie. Die volgende week het ek almal weer herinner, en hoewel daar weer geen reaksie was nie, het die skakel toe skielik oopgemaak.


Uit vorige ondervinding weet ek die hofdokument bevat al die nodige getuienis in die saak. Dit laat staan die eerste storie dus op sy eie bene, sonder direkte nodigheid om enigiemand vir sy mening te vra.


Die dag voor ons plasing het ek in ’n foonoproep na ’n nabye spanmaat van die betrokke speler die volgende gesê: “Ek weet hoekom hy nie meer rugby speel nie. Weet jy wat die rede is?”


Uit sy antwoord en reaksie kon ek onmiskenbaar aflei dat die spanmaat ondanks die tydsverloop geen benul van die steroïedsaak gehad het nie. Vir my was dié onthulling genoeg bewys dat ’n koerantberig allesbehalwe irrelevant sou wees.


Sommige volgers van plaaslike rugby het sienings uitgespreek dat dié saak meer of minder “sensasioneel” as vorige gevalle in ons media aangebied is. Soos tevore laat blyk, dien die besonderhede van die regsdokument as die grondslag en met inagneming dat ’n speler met ’n “hoër profiel” meer aandag sal trek, reken ek ons mediagroep se hantering van sulke stories toon ’n redelike verantwoordelike mate van konsekwentheid indien hulle langs mekaar vergelyk sou word.


Ek byt ook swaar aan kritiek dat ons mediadekking hieroor Namibiese rugby in ’n swak lig stel. Sal mense dieselfde sê oor Chili se huidige drie geskorste spelers? Of oor S’bu Nkosi (Suid-Afrika), die Kanadees, die Zimbabwiër, die Amerikaner of die Aussie...?

Facebook