Die Namibiese Watersportfederasie (Nasfed), in vennootskap met Bank Windhoek, het die eerste kortbadgala van die 2026-swemseisoen suksesvol by die Oranjemund-skoolswembad in die ||Kharasstreek aangebied.

Die geleentheid het ‘n sterk groep deelnemers van verskeie reisende klubs uit die Khomasstreek gelok, wat 'n bemoedigende begin vir die nasionale kortbadkalender was.

Uitstaande prestasies het Jessica Humphrey (Aqua-swemklub) se nuwe Namibiese kortbadrekords in die 200 meter vryslag (2:06.31) en 100 m vlinderslag (1:03.65) ingesluit, terwyl Madison Bergh (Marlins) die 1500 m vryslagrekord met ‘n tyd van 17:57.75 oortref het.

Humphrey en Bergh se tye is ouderdomsrekords (meisies 17-18 jaar) asook nasionale ope rekords in die kortbad. In die mansafdeling het Madison se jongboet Riley Bergh (Marlins) 'n nuwe ouderdomsrekord (13-14 jaar) in die 1500 m vryslag (18 minute 18.22 sekondes) opgestel.

Nasfed het lof uitgespreek aan alle swemmers, afrigters en beamptes vir hul toewyding en sportmanskap, en betuig waardering aan die borg Bank Windhoek vir hul volgehoue ondersteuning ter bevordering van uitnemendheid in die swemsport oraloor Namibië.