GEMSBOK-UPINGTON: La Leche League Suid-Afrika (LLLSA) is ’n nie-winsgewende organisasie wat deur vrywilligers bedryf word.
Die organisasie bied moeder-tot-moeder ondersteuning, opvoeding en inligting oor borsvoeding. LLLSA is geaffilieer met La Leche League Internasionaal (LLLI). LLLSA het 70 vrywilligers wat moeders regoor Suider-Afrika ondersteun deur middel van persoonlike ondersteuningsbyeenkomste, aanlynondersteuning en telefoniese hulp. LLLSA het sy Algemene Jaar Vergadering ( A J V ) en werkswinkels vir die verdere ontwikkeling van vrywilligers oor drie dae, van 16 tot 18 Oktober, by die Nine Oaks-konferensie lokaal in die Paarl, WesKaap, gehou.
Tydens die naweek is ’n besondere mylpaal gevier. Die heel eerste ondersteuningsbyeenkoms van LLLI het 70 jaar gelede, op 17 Oktober 1956, plaasgevind en is deur die sewe stigtersmoeders van die organisasie gehou. Marian Tompson is die laaste oorlewende stigtersmoeder en is op 96-jarige ouderdom steeds betrokke by die ondersteuning van die borsvoedingsgemeenskap wêreldwyd.
Die opgeleide vrywilligers, oftewel leidsters, het van so ver as die Noord-Kaap, Gauteng, Gqeberha en Duitsland gekom om die geleentheid by te woon. Dit was ’n besondere samekoms van vroue wat deur ’n gemeenskaplike passie verbind word: om moeders deur aanmoediging en die deel van ervaringe te help om met selfvertroue te borsvoed. Die AJV-naweek het aanbiedings oor die organisasie se prestasies gedurende die afgelope finansiële jaar ingesluit, asook verrykingsessies met internasionale gassprekers en borsvoedings dekundiges.
Die toewyding van jarelange vrywilligers is tydens ’n spesiale oorhandigingseremonie gevier. Leidsters is erken vir hul diens van 5 jaar (Simone Van Der Merwe), 15 jaar (Bridget Poole, Naomi Mitchell, Olga Lipkovics), 20 jaar (Leana Habeck), 25 jaar (Ute Gerard, Nicole Meyer) en 40 jaar (Esme Hough).
LLLSA Leidster Kari Oosthuizen, van Augrabies, het die geleentheid bygewoon. Kari ondersteun al nege jaar moeders en lei ‘n LLLSA ondersteuningsgroep wat maandeliks by JaapSeTuin kwekery in Brabeesmond bymekaar kom. Swanger mammas, mammas wat borsvoed en hul babas is welkom om die byeenkomste by te woon. Vir meer inligting oor borsvoeding en verwante hulpbronne, besoek www.lllsa.org. Volg ons op Face - book en Instagram: @ lalecheleaguesa
Jy kan elke Vrydag jou gratis Gemsbok op WhatsApp kry! Volg die skakel - https://whatsapp.com/channel/0029VbCfMcCLtOj9eXoohS29