Swaar neerslae landswyd die naweek het tot ongelukke gelei, paaie verspoel, voertuie in riviere meegesleur en insittendes gestrand gelaat.
In die Noorde was Outapi se strate die naweek onder water en by Karibib en tussen Okahandja en Otjiwarongo is ongelukke Sondagaand tydens swaar donderbuie en swak sig aangemeld. In die Suide is paaie verspoel nadat reënmeters oorgeloop het en teen laat gistermiddag het ’n hewige haelstorm amok by Ariamsvlei gesaai. Nadat sowat 130 mm reën tussen Aroab en Karasburg uitgesak het, is dele van die C11-pad in die ||Kharasstreek erg beskadig en onbegaanbaar.
“Ek is vas, ek kan nie gaan werk nie. Al die paaie om my het verspoel en die riviere loop,” het ’n boer in die omgewing in ’n stemgreep op die WhatsApp-groep Weerinligting gesê . Ek weet nie of die lyne omgeval het nie, maar die paaie is onrybaar by my. Ek het die ‘generator’ gestrart om almal te laat weet.”
Volgens inligting van Frikkie Mouton van Alte Kalkofen Lodge was ten minste vyf voertuie by riviere tussen die Nautedam en die Visrivier-canyon gestrand en een het weggespoel. ’n Voertuig by Mariental ook meegesleur met die bestuurder wat daarin kon slaag om eers op sy voertuig se dak en toe in ’n boom te klim. ’n Boot is glo deur die burgemeester van Mariental en die goewerneur van die Hardapstreek ingespan om die bestuurder te red. Nóg twee voertuie het glo in die vloedwater beland met insittendes wat langs die rivier gestrand was.
Die Meteorologiese Diens van Namibië (Meteona) het weer ’n weerwaak uitgereik met swaar donderstorms wat oor die noordelike en sentrale dele wat tot kitsvloede plek-plek kan lei.
By Karibib is 62 mm uit die reënmeter gegooi, by Otjiwarongo 60 mm, suid van Tsumeb 17 mm en in en om die hoofstad tussen 3 mm en 30 mm. Suide-boere was die meeste geseën met die plaas Boplaas, 40 km oos van Tsumispark, waar tussen 51 mm en 101 mm in verskillende reënmeters gemeet is, op die plaas Matruh, 20 km noordwes van Aranos, tussen 48 mm en 80 mm en 40 km noord van Aranos tussen 34 mm en 60 mm. Op die grens by Ariamsvlei het 50 mm uitgesak, asook op die plaas Cleopatria, 5 km noord van Aranos en Haribes, 50 km wes van Mariental.
Die plaas Lekkerwater, 35 km oos van Tsumispark, het 44 mm gehad, die plaas Karub, 45 km wes van Koës, tussen 18 en 42 mm en die plaas Witwater, 60 km noordoos van Helmeringhausen by die Swartrante. tussen 12 mm en 38 mm. Op die plaas Reitz, 13 km suid van Leonardville het van Saterdag tot Sondagaand 30 mm gereën, op die plaas Toulon, 25 km noordoos van Aroab, 25 mm, tussen 14 mm en 22 mm 70 km buite Keetmanshoop op pad Koës toe en op die plaas Ghaub, 22 km noordwes van Koës, 19 mm.
Op die plase Sandwuste en Virunga, 80 km noordoos van Stampriet, het onderskeidelik 18 mm en 12 mm gereën, Omitara en die plaas Loraine, net noord van Nina, 14 mm, asook op die plaas Hogeis, 60 km suidoos van Karasburg. Grünau het 9, 5 mm gehad en die plaas Neumark by Blumfelde sagte reën van 8,8 mm.