“Dit was stil, my hare was vol stof en nie gekam nie, en ek het dae laas gestort, maar jy voel verbind met die lewe om jou. Dit was suiwer, stil en rustig.”
Só vertel oud-Namibiër Bijon de Kock van sy mees kosbare oomblikke tydens ’n avontuurlike reis van München in Duitsland na Marokko wat hy in ’n Mercedes W124 gemaak het. Hierdie motor is 36 jaar oud en het nie eens lugverkoeling nie. “Die woestyn het homself in die motor ingenooi,” vertel Bijon van die ou swart Mercedes wat ’n dekade of twee gelede aan ’n dokter, ’n prokureur, ’n tandarts of in Bijon se woorde, aan “’n gesiene mens” behoort het.
Opa Gerhard - Hy beskryf die Mercedes, wat ‘Opa Gerhard’ gedoop is, as sy “paspoort na avontuur”.
“Ek dink [avontuur] is ’n individuele ervaring. Of dit ’n perd, ’n ‘piston’, ’n skaatsplank of ’n branderplank is. Ek dink nie ons kan ’n doekie gooi oor dit wat hulle paspoort is nie. Ek dink almal se paspoort na avontuur is anders, maar daar is geen verskil nie – almal het iets,” sê Bijon.
Oor die oorsprong van die noemnaam ‘Opa Gerhard’ vertel Bijon: “My meisie is nie ’n karremens nie, maar sy het so te sê grootgeword op die agtersitplek van presies so ’n Mercedes wat aan haar oupa Gerhard behoort het, so hierdie Mercedes maak iets in haar wakker.”
Gebore in Suid-Afrika en getoë op Mariental en Hentiesbaai, vertel Bijon dat sy liefde vir motors “ingebore” is. “So vroeg soos ek op my oupa se skoot kon sit, was ek agter die stuurwiel,” onthou hy. “Kleintyd het ek by die Hardapbesproeiingskema buite Mariental grootgeword. Weens omstandighede buite my ouers se beheer moes ons die plaas opgee en het die gesin na Hentiesbaai verhuis.”
Nadat Bijon se ouers, Dries en Gusta de Kock, na Hentiesbaai getrek het, beland hy in die koshuis op Leonardville. “Party naweke het hulle ons seuns teen 02:00 uit die bed gejaag om met oom Hannes se pypkar te gaan hase jag. Vir daardie hele tydperk van alleen wees en verlang was die pypkar-aande beslis my hoogtepunt. “Die pypkar, as onopgesmukte, opgeboude voertuig sonder fieterjasies wat vreesloos in die maanlig deur die veld kon jaag, was vir my 'n beeld van dit wat ek graag self wou wees: Sterk, vinnig, vry!”
Op 15 het Bijon sy eerste voertuig, 'n ou Volkswagen Kewer, besit. (Nie die Kewer of enige van die ander voertuie wat hy as kind behad het, het ooit uit sy ouers se beursie gekom nie.) “As dit oor motors gegaan het, kon ek onderhandel dat die wiele draai!” Bijon wat op hoërskool by ’n vulstasie gewerk en in sy vrye tyd motortydskrifte verslind het.
Motorjoernalis - In daardie stadium wou hy ’n motorjoernalis word en het homself fotografie geleer.
Hy sou jare later na Kaapstad verhuis waar sy oudste suster, die bekende Namibiese skrywer en oudjoernalis van Republikein, Anoeschka von Meck, reël dat hy ’n fotografiekursus kan loop. Bijon het ook as model gewerk, maar steeds droom hy daarvan om sy passie vir motors na te jaag. Hy het hierdie droom verwesenlik as ’n nuweling motorjoernalis vir die Wiel-tydskrif en later vir die digitale weergawe in Engels, bekend onder die naam CAR. “Dit was glad nie so glamorous soos mens sou dink nie,” vertel Bijon oor daardie tydperk.
Hy het uiteindelik na Duitsland verhuis waar hy vertel hy moes noodgedwonge en blitsvinning die taal aanleer. Bijon wou híér in die filmbedryf werk, maar wou ’n projek heel op sy eie aanpak. “Ek wou iets maak waar ek alles self doen. Ek wou dit self skiet, regisseer en redigeer, so ek het toe na die Porsche-handelaar in my stad gegaan en gevra dat hulle my net een kar vir een dag gee.
“Ek het amper ’n jaar gewag tot hulle ja gesê het, maar hulle was beïndruk met die produk, so ek het weer vir ’n tweede en derde keer vir hulle video’s gemaak.”
Hieruit het die geleentheid om ’n Engelssprekende aanbieder vir Porsche Duitsland te wees gespruit, maar in September verlede jaar sou Bijon weer eens ’n nuwe rigting inslaan met die vestigting van sy YouTube-kanaal, waar hy onder meer sy reis van München na Marokko deel.