GEMSBOK-EKSTEENFONTEIN: Suid-Afrikaanse Nasionale Parke het deur middel van sy Korporatiewe Maatskaplike Beleggingsprogram, 'n voedselsekuriteitsprogram van stapel gestuur.

Die projek is vroeer die maand (Maart) by die Stephen Malherbe Laerskool in Eksteenfontein, geloods. In reaksie op befondsingsbeperkings wat plaaslike sopkombuise beïnvloed het, het SANParke die vestiging en uitbreiding van volhoubare voedseltuine ondersteun om 'n konsekwente voorraad vars produkte te verseker. Die inisiatief sluit infrastruktuur soos skaduryke groei-areas, 5 000-liter watertenks, besproeiingstelsels, heinings, gereedskap en vaardigheidsontwikkeling vir jeugdeelnemers, in.

In vennootskap met die Noord-Kaapse Departemente van Maatskaplike Ontwikkeling en Landbou, bied die projek infrastruktuur, opleiding en jeugbemagtigingsgeleenthede om langtermyn volhoubaarheid te verseker, omgewingsbestuur te bevorder en lewensonderhoud in kwesbare landelike gemeenskappe te verbeter.