Sekuriteitswagte wat via EyeQ Security Services per kontrak dienste aan die Oranjemund-dorpsraad lewer, is bekommer oor die herhaalde vertragings met die uitbetaling van hul salarisse.

Volgens die wagte is dit ’n kwessie wat hul lewensbestaan ernstig raak. In ’n brief gedateer 3 Februarie 2026, gemerk “uiters dringend” en gerig aan die raad, het EyeQ Security amptelik onmiddellike betaling van uitstaande fakture geëis, die toepassing van die wetlike loonaanpassing van 2026 en ’n vaste betalingskedule om verdere vertragings te voorkom.

Die korrespondensie, namens die 27 sekuriteitsbeamptes wat by munisipale geriewe ontplooi is, het uitgelig dat betalings vir dienste wat oor die afgelope drie maande gelewer is – insluitend die Januarie 2026-faktuur – nie betyds gemaak is nie. Volgens die brief is vorige vertragings in Desember 2025 eers ná herhaalde opvolgaksies opgelos.

Die raad het na bewering interne administratiewe prosesse aangevoer, insluitend die afwesigheid van ’n amptelike besluit wat die ooreengekome uurlikse tarief goedkeur, as redes waarom betalings teruggehou is. 

EyeQ Security het gesê sulke verduidelikings kan nie wanbetaling regverdig nie, veral aangesien dienste ononderbroke voortgeduur het en die raad steeds voordeel getrek het uit sekuriteitsdekking.

Die brief het ook wetlike loonvereistes voorgehou en daarop gewys dat die minimum-loon vir die private sekuriteitsektor in Januarie 2026 tot N$16 per uur verhoog is. EyeQ het ’n ooreenstemmende kontraktuele aanpassing versoek om aan die wet te voldoen, maar die raad het glo aangedui dat betalings teen die vorige jaar se tariewe verwerk moet word totdat interne prosesse afgehandel is.

Die maatskappy het gewaarsku dat die voortgesette bedryf onder hierdie omstandighede beide die kontrakteur en werknemers aan finansiële risiko blootstel, asook die raad aan moontlike regs- en operasionele probleme.

In ’n onderhoud met een van die sekuriteitswagte, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, is gesê die vertragings het onsekerheid en swaarkry veroorsaak.

“Vir die afgelope maand het ons eintlik net gewag om betaal nie word. Hulle het nie vir ons gesê hoekom nie,” het die wag gesê.

“Dit het die lewensbestaan van ons span geraak, in terme van huur betaal, kos koop en so meer.”

Volgens die wag moes betalings op die tweede van elke maand verwerk word, maar in die praktyk was dit dikwels onreëlmatig, met sommige betalings wat eers later in die maand gekom het.

Pogings deur Network Media Hub (NMH) om kommentaar van die raad se waarnemende uitvoerende hoof, Festus Nekayi, te kry, was onsuksesvol. NMH het verlede Woensdag vir Nekayi gekontak, maar hy het gesê hy is in ’n vergadering en het nie later gereageer nie. 

In ’n opvolg verlede Donderdag is NMH na die raadsekretaris verwys, wat ook nie op die ingediende vrae geantwoord het nie. 

– phillipus@nmh-hub.com.na