GEMSBOK-UPINGTON: Barbara Roos, kruiekundige van Upington en die Noord-Kaap, reis deesdae die land vol om ander te leer oor kruie-medisyne.

Sy is al die afgelope agt jaar besig om kursusse in kruie-medisyne te ontwikkel. Sy het ook haar reeks produkte, Nature’s Path, op die mark. Daarmee saam het sy ook nou begin om belangstellendes te leer hoe om produkte te maak en die werking daarvan. Barbara werk nou saam met die Khoi-Khoi Volke Rooibos Biodiversiteitstrust. Prins Stanley Peterson, onder-voorsitter van die trust het haar genader om verskillende groepe weer te leer oor kruie en die mense te herinner hoe om kruie-medisyne te gebruik en hoe om gesondheidspro- bleme aan te spreek vanuit die veld.

Dis dan ook hulle wat haar onlangs na Kaapstad en Patensie, Langkloof in die Oos-Kaap gestuur het vir opleiding. Haar kundigheid het waardevolle leiding aan die deelnemers gebied, wat hoë kwaliteit kennisoordrag en vaardig- heidsontwikkeling verseker het. Die fokus bly op die bemagtiging van inheemse vroue, deur hulle die gereedskap en kennis te gee wat nodig is om hul gemeenskappe deur tradisionele medisyne te ondersteun.

Tydens die opleidingsessies het deelnemers geleer om tradisionele medisyne, middels, salwe en kapsules te skep deur gebruik te maak van inheemse kruie soos Buchu, Rooibos, Heuningbos en Moringa. Hierdie praktiese vaardighede is oorgedra deur Nature’s Path se hoofkruiekundige, Barbara Roos, wat verseker het dat deelnemers praktiese ervaring in kruiebereidingstegnieke opgedoen het.

Die program het nie net kennisdeling bevorder nie, maar ook gesondheid en welstand binne die gemeenskap bevorder. Barbara is elke Saterdag by die Groenvallei Kwekery en bied ook gereeld kursusse, soos seepmaak-, tinktuur-, combucha- en salfkursusse daar aan.

Om haar te kontak, whattsapp 061 923 9521. Volg Gemsbok se WhatsApp kanaal deur op die skakel te klik: https://whatsapp.com/channel/0029VbCfMcCLtOj9eXoohS29