Net langs die gewoel van die N14-hoofpad – halfpad tussen Kakamas en Keimoes in die Noord-Kaap in Suid-Afrika – is die Akkerboom Padstal geleë.
Dis ’n rustige, verwelkomende stilhouplek wat reisigers al twee dekades lank met vars produkte, tuisgemaakte kos en ’n voorsmakie van die platteland trakteer. Wat nou ’n gewilde toeristebestemming is, het in 2005 uit eenvoudige omstandighede ontstaan.
Die padstal se eienaar, Trudie de Wet, vertel die oorspronklike plaashuis het jare lank leeg gestaan en was met bosse oorgroei. Sy het toe besluit om die plaashuis te transformeer – en so is die Akkerboom Padstal gebore. Sy sê dit was nie maklik in die begin nie. Sommige weke het daar net twee of drie kliënte by die padstal gestop, maar deur volharding, geduld en harde werk het die besigheid stadig maar seker begin groei.
Vandag – 20 jaar later – is die Akkerboom Padstal ’n bekende naam onder plaaslike besoekers en toeriste. Volgens Trudie lê die geheim van hul sukses in hul liefde vir mense, aandag aan detail en ’n rustige atmosfeer.
Besoekers beskryf die padstal dikwels as ’n oase – ’n ruimte waar mense kan ontspan en asem skep. Die netjiese tuine, vars produkte en hartlike verwelkoming speel alles ’n rol daarin. Vir haar is gehalte ononderhandelbaar. Sy glo dat slegs die beste produkte op die rakke en op die spyskaart behoort. Haar benadering is “as ek dit nie self wil eet of koop nie, verkoop ek dit nie”. Dis juis dié ingesteldheid wat die padstal se kos so gewild maak. Hul varsgebakte melkterte lok gereeld nuwe kliënte, terwyl vars roosterkoeke en eg Kaapse vleispasteie ook groot gunstelinge is.
Volgens Trudie is mense op soek na egte plaasprodukte en tuisgemaakte kos by ’n padstal – iets anders as kitskos langs die pad. Die Akkerboom Padstal en die gasteverblyf op die plaas vul mekaar ook goed aan. Talle besoekers wat van die oornagverblyf gebruik maak, ontdek die padstal en kliënte wat die padstal besoek, hoor weer van die verskeidenheid verblyfopsies. Só groei die besigheid steeds deur goeie diens en aanbevelings wat van kliënt tot kliënt oorgedra word.
Vir jong entrepreneurs het Trudie eenvoudige maar waardevolle raad: Moenie te vinnig moed opgee nie. Sy glo sukses kom nie oornag nie, maar deur deursettingsvermoë en geduld. Met sy rustige atmosfeer, vriendelike mense en plaasatmosfeer, is die Akkerboom Padstal veel meer as net ’n plek om iets te koop – dis ’n bestemming waar stories geskep word en reisigers weer asem kan skep.