Die !Nami ǂNûs-jeugforum mobiliseer die gemeenskap van Lüderitz om op te ruk in ’n optog om geregtigheid ná die dood van 'n geliefde ouma te eis.
Gemeenskapslede in swart geklee sal Saterdag om 09:30 by die taxi-staanplek byeenkom en na die polisiekantoor opruk om ’n klagskrif teen dwelmverwante misdaad te oorhandig. Die gemeenskap eis geregtigheid vir ouma Frieda Ngwedha (74), wat op 9 Januarie 2026 gesterf het nadat sy op 16 Desember 2025 aangerand en beroof is.
“My ouma is op pad huis toe aangeval, beroof en met ’n voorwerp teen die kop geslaan. Sy het van Metro af gekom,” het Nehemia Mutaleni gesê. Sy is vir behandeling in die hospitaal opgeneem en is daarna oorlede. ’n Moordsaak is geopen nadat die die nadoodse ondersoekverslag beskikbaar gestel is.” Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
“Ons is moeg vir dwelmverwante sterftes, huisbrake en mense wat steel om hul dwelmverslawings te voed. Dit is tyd dat ons standpunt inneem en die hele gemeenskap nooi om aan die betoging deel te neem, het een van die organiseerders. Ons staan saam op of ons vou, en ons kies om saam op te staan,” het Ndeshipanda Akewenye, gesê.
Die tema van die optog is: “Dit verg ’n gemeenskap om sy jeug te beskerm.” Volgens Akewenye, ’n gerehabiliteerde dwelmgebruiker, glo hulle dat die dood van ouma Ngwedha die gevolg was van ’n dwelmverwante voorval. “Dit is ’n bekende feit dat dwelmgebruikers die gebied besoek waar die oorledene aangeval, beroof en beseer is en as gevolg daarvan gesterf het. Ons wil antwoorde hê en dat die skuldige/s voor die gereg gebring word.”
Akewenye het verduidelik dat die klagskrif, wat tot dusver deur 120 individue onderteken is, deur die volgende punte gemotiveer word. “Huiseienaars verhuur eiendomme aan dwelmbase en behoort aanspreeklik gehou te word. Ons doen dus ’n beroep op verhoogde polisieteenwoordigheid en veiligheidsinisiatiewe vir die gemeenskap.”
Hy het bygevoeg: “Daar was ’n tyd toe eienaars van sjebeens, kroeë, klubs en drankwinkels identiteitskaarte as bewys van wettige ouderdom vereis het. Wat het van hierdie praktyk geword? “Ons wil hê dit moet afgedwing word.”