GEMSBOK-UPINGTON: Vir die afgelope ses jaar is Leza-Mari Fouché deel van die Upington-gemeenskap – ’n gemeenskap wat haar gevorm het, gedra het en haar geleer het wat dit beteken om werklik vir ander om te gee.
Sy spreuk haar dankbaarheid uit vir soveel mense wat in haar lewe belê het, en wat ‘n roeping in haar gestalte laat vind het, om ook iets te beteken vir kinders en vroue wat deur moeilike omstandighede gaan.
“In my 26 jaar op aarde, het ek baie beleef maar die afgelope jaar het my lewe op ’n manier verander wat ek nooit kon voorsien nie. Verlede jaar (2025) was in baie opsigte ‘n woestynjaar vir my - veral met my gesondheid. Die moontlikheid van kinderloosheid as deel van ‘n diagnose was ‘n baie traumatiese ervaring,” sê Fouché.
Ná etlike bloedoortappings, ’n baie toegewyde dokter en honderde “engele” op haar pad voel ek stukke beter en vertrou ek steeds vir ’n wonderwerk. “In my geval is daar ’n dringendheid gebore om ’n stem vir ander te wees - ‘n stem vir vroue, vir kinderlose vroue, vir vroue wat met siektes worstel en vir vroue wat hoop verloor het. erselfdertyd het daar ook ’n diep liefde vir kinders in my hart wortel geskiet,” sê Fouché.
Soveel kinders het nie die voorreg van ’n veilige huis en liefdevolle omgewings nie. “Uit ondervinding wéét ek hoeveel substituut ouers vir my beteken het. Mentors op my pad, hulp, liefde en warm huise wat my tuis laat voel het en hoop gegee het. Ek is dankbaar om deel te wees van verskeie projekte wat daarop gemik is om kinders in ons gemeenskap te ondersteun en hoop te bring waar dit die nodigste is.”
Luidens Fouché is daar baie kinders wat haar hart diep geraak het – kinders wat deur moeilike omstandighede gaan en minder bevoorreg is. “Elke kind het ’n unieke storie, maar elkeen verdien ook liefde, versorging, veiligheid en aanvaarding. Dit is hierdie kinders wat my hartklop geword het en wat my inspireer om aan te hou bou aan projekte wat werklik ’n verskil kan maak.”
Haar droom is dat die gemeenskap van Upington saam sal staan vir hierdie kinders. “Ons moet onthou dat elke kind liefde, veiligheid en aanvaarding verdien. Daar is babas en kinders in ons gemeenskap wat sonder ouers grootword, en hulle het mense nodig wat bereid is om om te gee,” het sy gesê.
Fouché het ook haar opregte dank uitspreek teenoor almal wat haar op hierdie pad ondersteun. “Hierdie pad stap ek nie alleen nie. Daar is borge wat reeds bygedra het om hierdie werk moontlik te maak. Die ondersteuning maak dit moontlik om werklik ’n verskil te maak in kinders se lewens.”
Daar is nog baie werk wat voorlê, baie projekte oppad en Fouché nooi ook ander besighede en individue om deel te word van hierdie droom. “Kom ons maak saam ’n verskil. Saam kan ons hoop bring waar seer alle hoop wou steel. Saam kan ons liefde bring waar die sameloop van ‘n lewenspad die waarde van liefde wou uitdoof. Saam kan ons ’n lig aansteek in ’n kind se toekomsvisie, hoop en drome,” het sy bekelmtoon.
Onthou, jy kan elke Vrydag die skakel na jou gratis Gemsbok op die koerant se WhatsApp Channel kry!
Volg net die skakel https://whatsapp.com/channel/0029VbCfMcCLtOj9eXoohS29