GEMSBOK-KATHU: ‘n Gemeenskapsgefokusde internskapprogram help gegradueerdes om met bedryfsgeleenthede in die John Taolo Gaetsewe-streek te verbind en ondersteun jongmense om vaardighede, selfvertroue en paaie na betekenisvolle loopbane te bou.

Die Kathu Solar Park-internskapprogram, wat in 2024 van stapel gestuur is, het 13 gegradueerdes van gemeenskappe regoor die streek verwelkom, insluitend Kuruman, Kathu en Deben. 

“Hierdie internskap is ’n geleentheid om my akademiese kennis in ’n werklike impak vir my gemeenskap te omskep. Met my agtergrond in Sielkunde en Sosiologie is ek passievol daaroor om te verseker dat ekonomiese ontwikkelings- inisiatiewe nie net goed op papier lyk nie, maar werklik die lewensgehalte verbeter. 

“Ek is opgewonde om te leer hoe grootskaalse gemeenskapsprojekte geïmplementeer word en hoe hulle langtermyngeleenthede vir die mense in my gemeenskap kan skep,” het Tshepiso Wapad, ’n Kuruman-inwoner en ‘n ekonomiese ontwikkelingsintern, gesê.

Deur hierdie program kry internskapdeelnemers praktiese werkplekervaring, professionele mentorskap en blootstelling aan beide aanlegbedrywighede en gemeenskapsontwikkelingsinisiatiewe.

Tlotlo Wildebees, wat nou voltyds by Red Rocket werksaam is as ‘n ekonomiese ontwikkelings- en gemeenskapskoördineerder, besin oor sy internskapervaring verlede jaar:

 “Hierdie internskapprogram het werklik die verloop van my lewe verander. Deur die ondersteuning van Kathu Solar Park en StudyTrust kon ek my universiteitstudies voltooi en waardevolle werkservaring opdoen, wat uiteindelik tot permanente indiensneming gelei het.

“ Die program het my nie net gehelp om praktiese vaardighede en selfvertroue in die werkplek te bou nie, maar het my ook verbind met mentors wat in my potensiaal geglo het en my groei ondersteun het.”

“Om jongmense van ons omliggende gemeenskappe te ondersteun om vaardighede en werkservaring op te doen, is ‘n belangrike deel van wat ons doen. 

“Deur hierdie internskapprogram word plaaslike gegradueerdes toegelaat om hul loopbane te ontwikkel en deel te wees van Suid-Afrika se groeiende hernubare energiesektor,” het Sandisiwe Mntonintshi, SED-bestuurder by Kathu Solar Park, bygevoeg.

Onthou, jy kan elke Vrydag die skakel na jou gratis Gemsbok op WhatsApp kry! Volg net die skakel! https://whatsapp.com/channel/0029VbCfMcCLtOj9eXoohS29