GEMSBOK-UPINGTON: Die vakansie is om die draai en baie van ons wil ‘n draadjie ry.
‘n Mens hoef nie so ver te ry om interessante dinge te sien nie. Een so ‘n besonderse besienswaardigheid in ons streek, is die geoglief by Vanzylsrus wat vroeg in Mei voltooi is.
Die geoglief behoort aan die Vanzylsrus Hotel, wat dit tot voordeel van die gemeenskap en die kreatiewe ekonomie van die Kalahari sal bestuur. Die geoglief plaas natuurlik ook die fokus op aasvoëlbewaring.
Die idee om hierdie grootte voël op die vlakte naby Vanzylsrus uit te pak, was dié van Anni Snyman en haar broer, PC Janse van Rensburg, die leiers van die Site_Specific Collective-landkunsspan. “ Ek dink nie ek gaan die lesers verveel met die vreeslike gepakkery wat plaasgevind het nie, want daar is beslis interessanter en vroliker dinge om te vertel. Harde werk bly harde werk, en die mense hét gewerk,” vertel Pieter Pienaar.
“Vir nege maande het ek met hierdie “klippevisie” saamgeleef en ek moes ook hier en daar letterlik saam met ’n groep dagloners klippe optel om dit op Kobus Duvenhage Bouers se lorrie te gooi, sodat ons die geraamde 40 000 kalkklippe kon versamel.
“Die eerste lyn van die geoglief is vroeg in Oktober 2025, voor die eerste Vanzylsrus-kunsteweek, gelê.
Pieter skryf verder: Ek gaan my nou bepaal by ’n paar karakters uit die 2026-span. Die man van Wolvengat — ek sal hom “Zebest” noem, want sy naam bly vir my ietwat enigmaties — is van Poolse afkoms en kan enige televisiekok die stryd aansê. Hy is altyd kookparaat, hou van vuurmaak en braai, en hy kan kos behoorlik vertroetel en dophou. Sy vrou Janet, is ‘n bol energie wat net vir ons almal wil laat teken en leer hoe om snaakse goedjies uit papier te maak; sy gee kunsklasse vir kinders in die Overbergdistrik.
“Dan is daar Ingrid van Loxton, wat saam met haar regterhand, Raymondo, oftewel Vaalie, gekom het. Hulle het saam met Anni aan die Rivierhaas - ‘n geoglief by Loxton - gebou. Ingrid vertel graag van al die interessante dinge wat hulle doen om die plattelandse kreatiewe ekonomie aan die gang te kry en te hou.
“As ek ’n ryk weldoener was, sou ek vir Ingrid ’n motor geskenk het sodat sy haar goeie werk vir die Karoo met nog groter ywer kon voortsit, want befondsing vir die dinge wat regtig saak maak, bly maar skraps. Sy en haar span doen werklik baie om die armoede in die Karoo te probeer verlig. Daar is fietstoere, werkskepping deur weefwerk en kleremakery, en talle pogings om die gemeenskap positief te mobiliseer.
“ Die volgende is Coreen, ’n Kanadese vrou wat met ’n Israeli getroud is. Haar man bestuur ’n groenteplaas in Johannesburg wat produkte aan Woolworths lewer en sy is besig om nagraads in kuns te studeer. Coreen is heeltemal liries oor haar eerste geoglief-ervaring in die Kalahari en vertel dat dit vir haar voel asof sy in tien dae maan toe en terug was, alles was net te fantasties vir woorde.
“Die rivier in vloed het natuurlik ook die romantiek van die ervaring aangevuur. Haar verwysing na die maan was nie heeltemal onverwags nie. Die volmaan was elke aand pragtig en ons kon vanaf Ararat tot doer oor die vlaktes tuur. Daar is baie volmaankiekies geneem.
“Gustaf en Retha, ‘n afgetrede fiksheidsbewuste paartjie, het so teen die einde by ons aangesluit omdat hulle weens die vloede vele ompaaie moes ry. Hulle is splinternuwe spanlede en hulle deel beslis Coreen se sentiment. Alles was vir hulle en hul twee hondjies net te lieflik. Dit was wonderlik om hul energieke bydrae te kon gade slaan. Vir hulle was klippepak iets heerliks, want hulle hou van oefening en hulle kon elke tree op hulle Garmin-horlosies monitor.
“Dit was vir my as Kalahari-kunstenaar ’n besondere ervaring om saam met ander kunstenaars te kon droom oor die geoglief en dit ook letterlik gestalte te gee. As ek alles reg verstaan het, is die aasvoëldenkpad by Vanzylsrus nou heel waarskynlik die grootste mensgemaakte geoglief in Afrika.
“So, fluit-fluit, het ons ongeveer 40 000 kalkklippe in ’n 3,5 km lange lyn gepak. Die presiese aantal klippe is dalk ’n uitdaging vir professionele kliptellers,” het Pieter afgesluit.
* ’n Geoglief is ’n groot ontwerp of beeld wat op die grond gemaak word, gewoonlik deur klippe, grond of ander natuurlike materiale te rangskik — of deur dele van die grondoppervlak te verwyder om patrone te vorm. Hierdie ontwerpe is gewoonlik so groot dat dit net behoorlik van bo af gesien kan word, soos vanaf heuwels, vliegtuie of satelliete.
Onthou, jy kan elke Vrydag die skakel na jou gratis Gemsbok op WhatsApp kry!
Volg net die skakel! https://whatsapp.com/channel/0029VbCfMcCLtOj9eXoohS29