Ons het te lank gepraat, vergader en beloftes gemaak, maar ek kan bevestig dat die opdrag uitgereik is dat fase twee, die besproeiingskema wat mense met grond suid van die dam betrek, op ’n openbare-private vennootskap (PPP) moet begin.

Dit is bevestig deur die Namibiese eerste minister, Elijah Ngurare, tydens die amptelike opening van die 19de Lüderitz-kreeffees op die hawedorp. 

Volgens die eerste minister sal die PPP in die eerste of tweede kwartaal van 2027 geadverteer word sodat die besproeiingskema kan begin en kos geproduseer kan word om voedselsekerheid in hierdie deel van die land te versterk. 

“Dit is nie meer net ’n belofte of politieke praatjies nie. Ons wil hê die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Inge Zaamwani, moet doen wat sy sê. 

“Vandag is die dam vol en juis daarom het ons die minister onlangs, toe die begroting bespreek is, gevra dat ons met haas vorentoe beweeg en sy het ingestem,” het Ngurare gesê. 

“Die momentum lê nou by president Netumbo Nandi-Ndaitwah om te verseker dat dit met dringendheid geag word om dit te laat gebeur,” het hy beklemtoon. 

Die goewerneur van die ||Kharas-streek, Gaob Dawid Gertze, het gesê die verklaring van die eerste minister word deur hom en al die inwoners van die streek baie verwelkom en waardeer. 

“Dit sal die verhaal oor werksgeleenthede verander, die lewensbestaan van my mense verbeter en die ekonomiese ontwikkeling van die ||Kharas-streek waarvoor lank gebid is, teweeg bring.

“PPP is die pad vorentoe en my enigste verwagting is dat die proses deursigtig is en plaaslike inhoud in ag neem,” het. 

Die Neckartal, Namibië se grootste dam, geleë in die Visrivier in die omgewing van Keetmanshoop, is in Maart 2020 ingewy. 

Die dam het vir die eerste keer op 19 Januarie 2021 oorgeloop ná ’n buitengewoon goeie reënseisoen. Die dam met ’n 80 meter hoë wal en ’n kapasiteit van 857 miljoen kubieke meter, is vir besproeiingsdoeleindes gebou, ontwerp om ’n landbouskema van 5 000 hektaar te ondersteun wat vertragings in die gesig gestaar het. 

Fase 2 van die damprojek, wat die lê van pype en die grawe van kanale vir die voorgestelde besproeiingsprojekte behels, het nog nie begin nie, ondanks die feit dat die dam ten volle funksioneel is.

Volgens die eerste minister is die Neckartaldam met ’n mate van pessimisme gebou oor of dit ooit met water vol sou raak. 

“Die leierskap in die streek het gesê hulle wil hê dit moet gebou word. Talle het gesê die konstruksie van die dam is ’n mors van hulpbronne en dit sal nooit vol word nie. 

“President Hifikepunye Pohamba het vorentoe getree en leiding geneem om seker te maak die dam word gebou.” het Ngurare gesê. 

“Daar is twee fases van die dam: Die eerste is die infrastruktuur self en die tweede is besproeiing. Die tradisionele owerhede wil 1 200 hektaar hê sodat jongmense uit die gebied wat na landbou streef, kan baat,” het hy gesê.

Ná goeie reënneerslae die afgelope reënseisoen het die Neckartaldam middel April weer oorgeloop. Volgens die jongste dambulletin van NamWater is die dam steeds 100% vol, net soos verlede jaar die ooreenstemmende tydperk.

– republikein@republikein.com.na