Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Esperance Luvindao, het erken die ondersoek na die omstrede werwingsproses op Mariental is steeds nie voltooi nie.
Bewerings is gemaak dat ’n spesifieke stam voorkeur gekry het. Die nuwe personeel het reeds vroeër dié maand begin werk. Luvindao het in die parlement gereageer op ’n vraag deur Carlolintjie Brinkman en het bevestig sy het ’n voorlopige verslag ontvang, maar dat dit onvolledig was. Sy het intussen haar span vir verdere duidelikheid gevra. “Dit is nie dat die verslag voltooi, maar teruggehou is nie, eerder dat die proses voortduur. Die voorlopige bevindinge is ingedien, maar ek was nie heeltemal daarmee tevrede nie. “Hulle het nie voldoende aangespreek hoe ons ’n herhaling van sulke kwessies kan vermy, sou enige oortreding gepleeg gewees het nie,” het Luvindao gesê.
Sy het bevestig dat die ondersoek steeds onder hersiening is. Die finale verslag, wanneer dit voltooi en uitvoerbare voorstelle het, sal aan die Nasionale Vergadering (NV) voorgelê word. “Ons wil graag die kwessie omvattend aanspreek eerder as om ’n kunsmatige reaksie te gee. Ek wil duidelikheid hê uit ’n menslike hulpbron-perspektief, veral met betrekking tot die voorgestelde pad vorentoe,” het Luvindao gesê.
Brinkman wat die vraag gestel het, het teen die ministerie uitgevaar vir wat sy beskryf het as “stilte en ’n gebrek aan optrede”. Volgens haar voel die gemeenskap van Mariental verraai deur die hantering van die kwessie. “Lede van die gemeenskap het ernstige kommer geopper dat die werwingsproses bevooroordeeld ten gunste van ’n spesifieke stam was. Dit ten spyte van die teenwoordigheid van gekwalifiseerde plaaslike kandidate. Die proses is op ys geplaas vir ’n ondersoek, tog het hierdie einste rekrute op 1 Februarie begin werk. Ons wil weet wat het gebeur, waar is die verslag?” het sy gevra.
Die omstredenheid het verlede jaar begin toe inwoners streekgesondheidsbeamptes van die begunstiging van ’n sekere stam in die werwingsproses beskuldig het. Die ministerie het beloof om ondersoek in te stel, maar tot op hede is die bevindinge nog nie openbaar gemaak nie. In Oktober verlede jaar het die goewerneur van die Hardapstreek, Riaan McNab, die opskorting van onderhoude vir die werwing van verpleegsters aangekondig. Dit nadat die parlementslid van die Landless People’s Movement (LPM), Utaara Mootu, in die NV gesê het die toets is op ’n WhatsApp-groep gelek wat oorwegend oop is vir lede van die noordelike streke.
Mootu het die ministerie van stamgebondenheid en diskriminasie beskuldig en gesê die lek van die vraestel het ’n onregverdige voordeel aan sekere kandidate gegee. Die toetsvrae het die verplegingsproses, etiese beginsels, fases van kraam, immuniseringskedules en basiese toetse vir voorgeboortesorg ingesluit.
“Al die lede, sowat 50 lede, wat na die tweede fase van die onderhoud beweeg het en die mondelingse deel is, het hierdie inligting tot hul beskikking gehad,” het Mootu gesê. “Die mense van die suidelike gedeelte en Mariental wat uitgesluit is van die onderhoude, het nie verder na die mondelingse vrae beweeg nie.”
In ’n video wat op die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie se Facebookblad geplaas is, het McNab bevestig die onderhoude gaan nie voort totdat ’n volledige ondersoek voltooi is nie. Mootu het in die NV gesê “al die boorlinge is uitgesluit en het gedruip en nie na die tweede fase gevorder nie. Al die ander kandidate kom uit die Noorde. “Hoekom gaan ons voort om te verseker dat ons teen ons grondwetlike reg beweeg en stamgebondenheid in die werwingsproses te bevorder, minister?” het hy gevra.
Na bewering het ’n senior amptenaar so ver gegaan om te sê “hulle sal nie Namasprekende mense aanstel nie, omdat hulle Damaras is”, wat op blatante stamgebondenheid dui. Eerste minister Elijah Ngurare het toe die bewerings veroordeel. “Kom ons stem as ’n beginsel in dat stamgebondenheid teenproduktief is om ’n nasie te bou, ons veroordeel stamgebondenheid waar dit ook al sy kop uitsteek,” het Ngurare gesê.
Die eerste minister het Mootu toe verseker die kwessie word op beide streek- en nasionale vlak hanteer.
“Vat dit van my, die minister is presies oor hierdie kwessies waarvan jy praat, ingelig. Hulle gaan dit binne ’n kwessie van miskien ’n paar minute hanteer,” het Ngurare toe beloof.