GEMSBOK-UPINGTON: Mêrie is 'n plaaslike skrywers wat telkens die spesifieke taalgebruik en die unieke mense en omgewing van die Oranjerivier as agtergrond gebruik vir haar stories.
Haar eerste boek het in 1991 verskyn. MOOI IS GISTER SE SPORE se storie was geweef om die mense en hul lewens wat toe by Die Gemsbok gewerk het. Die boek is onder die naam Annamarie Scheepers uitgegee, want die uitgewer het nie gedink Mêrie kan ‘n naam wees nie. Sy het ook onder die naam Annie Mouton publiseer.
Sy het op daardie stadium by Gemsbok gewerk as reklame konsultant. Sy was ook rubriekskrywer, fotograaf en het alles gedoen wat nog nodig was om te doen by ‘n streekskoerant. “Douglas Jones was toe redakteur en hy het die boek gelees. Die volgende oggend bring hy die boek terug, staan in my kantoordeur en skiet die boek netjies tot voor my op my oorvol lessenaar. “Ek ken mos daardie F=’;**& redakteur?” “Ja, jy’s reg. En?”
“Glad nie te k@% nie!” en toe loop hy verder die gang af, nuuskamer toe. “Met al die boeke wat ek daarna geskryf het en al die ander kommentaar, het ek hierdie opmer- king seker die meeste waardeer. Nie net omdat dit my heel eerste terugvoer oor my skryfwerk was nie. Eintlik omdat Douglas nooit mooi broodjies gebak nie. Kaalkop Waarheid kon sy tweede naam gewees het,” sê Mêrie.
Hierdie nuwe boek is ‘n gewone liefdesverhaal wat op ‘n plattelandse dorp afspeel.
MEISIEKIND IN DIE KLIPHUIS, uitgegee deur Hartbees Uitgewers, is ‘n groter druk boek wat geskik is vir mense wat sleg sien en ook graag wil lees. Die boek is aangekoop deur Suid Afrikaanse Biblioteekdiens en sal in biblioteke beskikbaar wees.
Soos die voorblad belowe, is die hoofkarakter, Elaine de Jager, ‘n jong vrou wat vir niks en niemand skrik nie. Die grofsmid van die omgewing, is self ‘n man met wie daar rekening gehou moet word. Meng dan die vakmanne wat help met die restourasie van die kliphuis saam met elkeen se verlede in die storie, en dit raak baie interessant.
Mêrie woon nou weer op Upington waar sy kunsklasse aanbied vir oud en jonk, self skilder en skryf met al vyf haar kleinseuns naby haar. Op die oomblik is daar nog drie boeke by die uitgewers wat mettertyd sal verskyn. Sy is die meeste opgewonde oor die langste boek wat sy al geskryf het, wat as e-boek uitgegee gaan word. “Om ‘n boek van bykans 197 000 woorde te druk, sal te duur wees” was die meeste uitgewers se mening nadat sy die manuskrip aan hulle voorgelê het. (die gewone liefdesverhale het omtrent 40 tot 45 000 woorde)
“Ek wonder soms of dit nie ‘n dom ding was om ‘n outobiografiese roman te skryf nie. Die boek begin in my kleuterjare met die eerste dinge wat ek kan onthou. Kronologies is die boek nie korrek nie en feitelik ook nie heeltemal nie. Marina het eendag oor my skouer staan en lees en toe gesê: “Ma, ek was nie daardie dag daar nie.” “Ek weet, maar ek het jou daar nodig gehad vir die storie, anders gaan die boek nog langer wees.”
So, ja sy het baie dinge ingekrimp en saamgegooi of rondgeskuif, maar almal wat op Durbanville (haar kom-vandaan), Upington, Keimoes, Neilersdrif, Wegdraai en Groblershoop bly en die van Lill’s en later die Scheepers-gesin hoegenaamd geken het, sal die stories en die karakters eien. Sy gebruik die meeste mense se regte name. “Ek sal sekerlik nie ewe gewild wees by almal na hierdie boek nie...wel, niemand is in elk geval ewe gewild by almal nie, so?”
Die boek word opgedra aan Skippie met wie Mêrie in 1979 getroud is. Skippie is in 2011 oorlede. Hulle kinders, Koot (werk by Upington Hoër) Marina (Gemsbok) en Birtie (woon in Frankryk en werk iewers in Afrika). “Ek sal laat weet wanneer die e-boek gereed is om afgelaai en gelees te word. Natuurlik nadat die uitgewer of die kinders my vertel het hoe om dit te doen,” sê Mêrie.
Mêrie hou ‘n klein voorraad van haar boeke by die huis aan as iemand dalk daarvan sou wou koop. Julle kan haar WhatsApp by 084 487 3866 vir meer inligting. Onthou, jy kan elke Vrydag die skakel na jou gratis Gemsbok op WhatsApp kry! Volg net die skakel! https://whatsapp.com/channel/0029VbCfMcCLtOj9eXoohS29