GEMSBOK - VANZYLSRUS: Die tweede Vanzylsrus Kunsteweek vind van 29 September tot 1 Oktober plaas, met kuns, letterkunde, musiek en kreatiewe klasse op die program.

Organiseerder Pieter Pienaar sê die geleentheid is daarop gemik om mense aan kuns bloot te stel en deelnemers aan te moedig om self kreatief te wees. “Hoe vertel ’n mens vir die hele land wat in jou hart brand? Hoe versprei jy ’n boodskap wat jy glo vir alle mense en die platteland voordeel kan inhou?” vra Pienaar. “Jy wend jou tot die media en jy maak Facebook-video’s vir ’n vale en jy loop lang ente in ooptes en smeek die hemel om die regte engele jou pad te laat kruis. Dit klink alles vreeslik dramaties, maar sowaar, dit is.”

Pienaar sê die eerste Kunsteweek in 2025 was ’n groot uitdaging, maar dat hy vanjaar meer bewus is van die omvang van die projek. “Ek het wonderlike kunstenaarsvriende en -medewerkers wat hierdie organisatoriese taak ook ’n groot plesier en voorreg maak,” sê hy.

Vanjaar se program fokus op drie hoofareas: gratis kunsklasse op die duin vir plaaslike kinders, wat deur Ida Hutton en haar span aangebied word; kunsklasse by die NGK-saal; en letterkunde- en storievertelaktiwiteite by die El Shaddai-gemeente. Pienaar sê die doel is om die fokus op kuns en kreatiwiteit te behou eerder as op kommersiële aktiwiteite.

“Ons bied ’n kunsteweek aan waar mense kan kom leer om self skeppend te wees. Die klem val op kunsteblootstelling en op die inasem van inspirasie,” sê hy. “Ons kan nie die klem op stalletjies en biertente sit nie, want daar is nie voete om dit te regverdig nie.”

Hy sê die aantal deelnemers aan die klasse is belangrik vir die aanbieders wat van ver reis om die geleentheid by te woon. “Ons en die klasaanbieders kan die spreekwoordelike tafel dek, maar die bruilofsgaste moet asseblief tog betyds opdaag,” sê Pienaar.

Die kunsklasse by die NGK-saal word aangebied deur verskeie kunstenaars en kreatiewe praktisyns. Abel van Heerden demonstreer mesmaaktegnieke, met deelnemers wat ook hul eie mes kan maak. Alicia Wambach bied ’n waterverfklas en koekversierings aan, terwyl Christiaan Snyman beeldhouwerk met pottebakkersklei aanbied en deelnemers se skeppings na Pretoria neem om dit te bak. Karen Visser van die Artabella-kunsskool bied akrielverfklasse aan. Louis Krüger van die Universiteit van die Vrystaat bied fotografie en houtskooltekenklasse aan en stel ook ’n mediaspan saam.

Magriet Fourie bied ’n gemengde-mediaklas aan, terwyl Ronél Pickels deelnemers met haar gemengde-media- en “lang papier”-metode aan kuns blootstel. Shane Mayongo bied ’n tradisionele pottebakkeryklas aan en sal deelnemers se potte in sy oond in Upington bak. Sonette Haggies bied decoupage-klasse aan. “Ek dink nie iemand kan ons van ’n vervelige kunsmaak-spyskaart beskuldig nie,” sê Pienaar.

Die letterkundeprogram vind op Woensdag 30 September by die El Shaddai-gemeente plaas. Die ATKV bied ’n skryfskool onder leiding van Hettie du Plessis aan, terwyl dr Johann Lodewyk Marais die digterskool aanbied. Anné Pretorius lei ’n skryfkompetisie vir mense wat nie normaalweg skryf nie. Die middagprogram sluit storievertelsessies, ’n boekbekendstelling en ’n aanbieding deur Pretorius oor die gebruik van memoireboeke in om persoonlike stories vir toekomstige geslagte te bewaar.

Die ATKV se skryfskool vir kinders word Woensdagmiddag deur Du Plessis aangebied.

Die program sluit ook ’n musikale fokus op die Karoo in. Andile Bhali, wat in die Karoo se toerismesektor werk en ook ’n sanger is, sal oor toerismebevordering in die streek praat.

Volgens Pienaar het Bhali en sy sanggroep spesiaal vir die geleentheid ’n lied in Afrikaans, Engels en Xhosa geskryf en gekomponeer.

Die Kunsteweek word op Donderdag 1 Oktober met ’n middagkonsert in die kerk afgesluit. “Daar gaan orrelspel wees, gedigte en prosa gaan voorgelees word, plaaslike en ‘ingevoerde’ sangers en musikante gaan optree,” sê Pienaar. Bas-bariton Christiaan Snyman en violis Lizette Vosloo sal ook optree.

Pienaar nooi die publiek om aan die klasse deel te neem of die program by te woon.

“Indien dit enigsins moontlik is, kom loop ’n klas of twee en help ons om die kreatiewe ekonomie van die Kalahari ’n hupstootjie te gee. Jy is natuurlik ook welkom om net die heerlike atmosfeer te kom geniet.” Hy het ook König Coffee bedank vir die uitleen van ’n koffiemasjien vir die geleentheid.

Navrae: Pieter Pienaar, 083 585 3512.

Jy kan elke Vrydag jou gratis Gemsbok op WhatsApp kry! Volg die skakel - https://whatsapp.com/channel/0029VbCfMcCLtOj9eXoohS29