GEMSBOK - Die FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie spog ’n indrukwekkende totaal van 1 091 nuwe liedjies wat vir dié kompetisie ingeskryf is. Dit is dubbel soveel as verlede jaar en bevestig dat die behoefte aan ’n platform vir nuwe Afrikaanse liedjieskrywers groter as ooit is.

Met die die eerste beoordelingsronde wat dié maand plaasvind, word die FAK se kundige musiekpersoneel, saam met ervare medewerkers en eksterne musici, se kennis en deursettingsvermoë behoorlik beproef. Hierdie paneel het die omvangryke taak om elkeen van die 1 091 liedjies deeglik te evalueer – ’n proses wat nie net tydrowend is nie, maar ook krities belangrik is om regverdigheid en gehalte te verseker.

“Elke liedjie kry ’n regverdige kans,” sê Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van geskiedenis, gemeenskap en ad hoc-projekte. “Ons maak doelbewus seker dat elke beoordelaar na elke inskrywing luister. Dit beteken dat elke lied deur verskeie pare ore gehoor word, wat die integriteit van die proses versterk en ons help om werklik die beste liedjies uit te sonder.”

Gedurende hierdie fase word streng, maar noodsaaklike keuringskriteria toegepas. Liedjies met kru of suggestiewe taalgebruik, asook inskrywings wat oorlaai is met Engelse woorde, word uitgesluit. Die fokus val op lirieke wat nie net tegnies sterk is nie, maar ook inhoudelik afgerond en oorspronklik is. Daar word verder gekyk na die melodiese vloei, struktuur, kreatiwiteit en die sogenaamde “oorwurmpotensiaal” van ’n liedjie.

“Ons soek nie net mooi woorde nie; ons soek volledige idees,” beklemtoon Müller. “Goeie lirieke moet ’n storie vertel, emosie oordra en iets blywends by die luisteraar los. Daarom kyk ons streng na taalgebruik, diepte en samehang. Maar daardie lirieke moet saamvloei met ’n gepaste melodielyn, wat die emosionele diepte van die woorde deur middel van bypassende akkoorde versterk.”

Uit hierdie eerste siftingsproses word die sterkste liedjies gekies om na die tweede ronde deur te dring. Hierdie fase begin op 1 Junie en bring ’n nuwe vlak van intensiteit en kundigheid na die beoordelingsproses.

’n Paneel van gerespekteerde Afrikaanse kunstenaars en liedjieskrywers is saamgestel om die topinskrywings verder te evalueer. Onder hulle tel gevestigde kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Pieter Smit, Logan Pieterse, Jannie du Toit, Monica Maree, Stefan Jansen, Machiel Roets, Gian Groen en Bibi du Preez, asook name soos Jakkals Vibes en Blixim Straat, wat bekend is vir hul eksperimentele benadering tot kreatiewe tegnologie.

“In die tweede ronde kyk ons na die fyner detail,” verduidelik Müller. “Elke woord, elke beeld en elke lyn se bydrae tot die geheel. Dit gaan oor vakmanskap – oor hoe goed ’n idee uitgevoer is en of dit werklik iets besonders tot die Afrikaanse musieklandskap toevoeg.”

’n Unieke aspek van die FAK-Skryf’it-kompetisie is dat dit uitsluitlik op lirieke en musikale verwerking fokus, en nie op sangvermoë nie. Dit plaas die kollig op die skrywer se vermoë om betekenisvolle en treffende woorde te skep en dit oortuigend in ’n musikale konteks te plaas.

“Dit is nie ’n sangkompetisie nie – dit is ’n kompetisie wat fokus op die hart van Afrikaanse musiek,” sê Müller. “Ons luister verby die kunstenaar se stem en fokus op die kern: die samestelling van die lirieke, die gebruik van die rykdom van Afrikaanse literatuur en die harmonieuse samesmelting van liriek en musiek. Dit maak die proses moeiliker, maar ook baie meer opwindend omdat dit onbekende skrywers ’n regverdige kans gee.”

Die beste liedjies word daarna in ’n gesamentlike poel geplaas. Uit hierdie poel word vier liedjies vir elke ghoeroe of mentor gekies – liedjies wat volgens die beoordelaars die beste by elke ghoeroe se styl en kreatiewe benadering pas. Omdat die ghoeroes toegang tot die volledige poel het, kan hulle besluit of hulle met een van die voorgestelde liedjies wil voortgaan, of eerder ander liedjies wil kies waarmee hulle kreatief sterker aanklank vind. Die finale besluit oor elke ghoeroe se top-4-liedjies, bly by die ghoeroes self.

“Hier begin die werklike ontginning van potensiaal,” sê hy. “’n Goeie liedjie kan in die regte hande omskep word in iets uitsonderliks. Ons wil nie net wenners kroon nie; ons wil loopbane help bou en geïnspireerde treffers vir die Afrikaanse musiekbedryf help skep – liedjies wat die toets van tyd sal deurstaan.”

Sodra die ghoeroes se top 20 aangewys is, begin die stemprosesse op 13 Julie, waarna die publiek die geleentheid kry om hul gunstelinge te ondersteun.

“Daar is ’n groot behoefte aan Afrikaanse musiek met diepte – musiek wat weer die rykheid en erns van ons taal weerspieël, soos ons dit in die 1980’s en 1990’s geken het,” sê hy. “Daardie tydperke het vir ons liedjies gegee wat oor dekades bly staan het, en dit is daardie vlak van inhoud en integriteit waarna ons soek.

“Die realiteit is dat min mense vir nuwe skrywers ’n kans gee,” sê Müller. “FAK-Skryf’it maak daardie deur oop. Dit gee aspirantskrywers en kunstenaars die geleentheid om gehoor te word – nie op grond van wie hulle ken of hoe bekend hulle is nie, maar op grond van die krag van hul woorde.”

Met die toenemende rol van tegnologie in kreatiewe prosesse erken Müller dat kunsmatige intelligensie ook ’n plek in die toekoms van liedjieskryf het, mits dit as hulpmiddel gebruik word en nie die hart van Afrikaanse musiek vervang nie. Volgens hom lê die skeppende krag van Afrikaanse musiek steeds in die outentieke persoonlike ervarings wat deur liriek en musiek verwoord word.

“FAK-Skryf’it vestig hom vinnig as ’n noodsaaklike platform vir die herontdekking en vernuwing van Afrikaanse musiek. Liedjies wat iets sê – wat mense laat dink, voel en onthou,” sluit Müller af. “As ons daarin slaag, bou ons nie net ’n kompetisie nie; ons bou aan die toekoms van Afrikaanse musiek.

Onthou, jy kan elke Vrydag die skakel na jou gratis Gemsbok op WhatsApp kry! Volg net die skakel! https://whatsapp.com/channel/0029VbCfMcCLtOj9eXoohS29