GEMSBOK-POFADDER: Een van Pofadder se dogters, Loraine van der Westhuizen, het die groot taak aangepak om ‘n omvattende 5-volume reeks van Pofadder, saam te stel.

“Pofadder: My Komvandaan” is ’n omvattende 5-volume reeks wat die siel, geskiedenis en mense van hierdie unieke Boesmanlandse dorp en omgewing vasvang. Hierdie is nie net ’n boek nie; dit is ’n historiese skatkis. Hierdie reeks is die resultaat van jare se passievolle navorsing en bied ’n visuele en feitelike reis soos min. Die volledige stel dek elke aspek van die dorp. Indiepte vertellings (38 hoofstukke) van feitelike gebeure en inte- ressanthede. ‘n Omvattende bron van plaaslike geskiedenis (± 2,500 A4 bladsye (in grootdruk); 3,290 foto’s: Die meerderheid in volkleur, wat die landskap en sy mense lewendig maak.

Loraine vertel dat sy in 2010, as ‘n jong weduwee op ‘n heimwee-reis terug na Pofadder gegaan het. Haar doel was om navorsing oor haar ouers en familie te doen. Daar ontmoet sy toe vir oom Koos en tannie Sarie Louw (voorheen van Middeldeurvlei-plaas, Pofadder) en hulle gesels so oor hul gemeenskaplike belangstellings. Loraine se ouers, Jan en Vida van der Westhuizen, het in Junie 1955 die Pofadder Hotel van oom Rudy Niemöller gekoop. Haar pa het in 1972 die hotel verkoop en die gesin het tot 1976 in Pofadder gewoon.

Sy het dus het op Pofadder grootgeword, was daar in die laerskool. Op Kakamas was sy ‘n koshuis- ganger gedurende haar hoërskooljare (1964 – 1968). Daarna het sy op Stellenbosch studeer (maatskaplike- werker) en in Bellville (Kaapstad) gewoon. Sy het in Kaapstad en Bellville gewerk en aan die einde van Maart 2021 afgetree.

Maar meer oor die boek - In 2011 het oom Koos (toe reeds ‘n hoë ouderdom en sieklik) ‘n konsep van sy lewens ideaal “Boesmanland, My Kaia” soos hy dit geti-tel het en al die ander dokumente - foto’s, kaarte, dergelike materiaal, briewe, koerantuitknipsels en sy geskrifte wat hy oor jare versamel het, aan haar oorhandig.

Hy het haar versoek om voort te gaan om sy ideaal te verwesenlik. Sy skryf verder: “Ek was nie net verras nie maar ook gevlei. Vir hierdie reuse taak was ek onvoorbereid en nie bedag op dit wat op my gewag het nie. En so raak my stokperdjie toe ‘n ‘werk’ – ‘n belofte gemaak aan ‘n Boesmanlander in murg en been. Maar ek het nog baie inligting gekort en vir jare inligting en foto’s begin versamel en baie persone gekontak. Ek moes my eie weg vind tussen ‘n klomp papiere, boeke en inligting. My eie storie oor Pofadder en omgewing (feitelike gebeure en interessanthede), sy pioniers en my familie (volgens my eie belangstellings) vertel.”

Eers na haar aftrede aan die einde van Maart 2021, het sy in volle stoom begin om al die inligting en foto’s te orden. Sy is baie trots dat sy nou die stel boeke bekend kan stel. Johan Louw, seun van oom Koos Louw, skryf op die agterblad: “Haar werk is vir my van persoonlike belang: eerstens omdat ons beide lank daar skoolgegaan het, maar ook omdat sy die geskiedenis van Pofadder opgeteken het en my pa se werk oorgeneem en voltooi het. Die resultaat sal baie nostalgiese herinneringe oproep vir iemand wat ‘n voet in Pofadder gehad het of nou nog het.”